Dries Visser Pure-Bred Game-veiling om die draai
Ons sien uit na ’n goeie veiling van gehalte diere
Klik hier om ons aanlynkatalogus te besoek
Dit is ’n besonderse voorreg om ons eerste veiling van kwaliteit teeldiere aan te bied. Na sowat 18 jaar se sorgvuldige teel voel ek dat ons nou reg is om ’n wye verskeidenheid uitstaande genetika aan die mark beskikbaar te stel tydens ons eie veiling.
Ek het persoonlik seker gemaak dat net die heel beste, uitgesoekte diere van gehalte bloedlyne op die Dries Visser Pure-Bred Game veiling te koop aangebied word. Alle kopers kan dus gerus wees dat wanneer hulle op ons veiling koop, hulle pragdiere koop. Dít waarborg ek persoonlik.
Toe ons een van net twee Zambiese swartwitpens-teelgroepe in 1999 Suid-Afrika toe bring, kon ek nie raai dat die teel van hierdie pragdiere huidige afmetings sou aanneem nie. Hieroor is ek baie bly. Ons is trots dat ons swartwitpense almal met die egte Zambiese swart masker spog. Hierdie unieke eienskap herinner sterk aan die reuse swartwitpens van Angola.
Alhoewel horinglengte in alle teeldiere van groot belang is, wou ons seker maak ons swartwitpense se gitswart maskers is goed gevestig. Dit het ook so gebeur. Toe die swart masker sterk in ons verskeie teelgroepe ingeteel is, het ons ook op horinglengte en liggaamsmassa begin konsentreer.
Hierdie teelstrategie het mooi vrugte afgewerp. Ons 50” teelbul Busanga is ’n sprekende voorbeeld van ’n dier met ’n gitswart masker, 50” horings en ’n mooi, swaar lyf. Hierdie seun van ons legendariese 49”+ bul Big Boy, se nageslag is op ons veiling beskikbaar, saam met ’n wye verskeidenheid ander besonderse swartwitpense.
Ek reken ons stel een van die grootste groepe kwaliteit Zambiese swartwitpensteelbulle ooit op veiling beskikbaar. Ons verkoop ook gehalte koeie en verse, almal uit die oorspronklike Dries Visser-bloedlyn.
Moenie hierdie geleentheid deur jou vingers laat glip nie. Dit is ’n kans duisend om fantastiese Zambiese swartwitpense te bekom.
Behalwe vir swartwitpense is daar ook uitstaande buffels, bastergemsbokke, koedoes, koning en goue wildebeeste, gemsbokke, njalas, verskeie tipes rooibokke en ander diere beskikbaar.
Ek bedank graag ons vriende in die wildbedryf wat van hulle top diere op ons veiling beskibaar stel. Hierdie kwaliteit telers sluit in: Bdumbi Too Game Ranch, Boegasvlei Wildsboerdery, Buffelsdrift Boerdery, Greater Kudu Club, Jaco Pretorius Familie Trust, Makloppie Telers, Makoba Game Breeders, Mananga Safaris, Masara Genetics, Meletse Breeders, Njabulo Game Farm, Northern Wildlife Holdings, Shakawe Private Game Reserve, Silent Valley, Streicher Buffalo, Swinburne Game Breeders, Trollope Brothers, Uzzi’a Game Breeders, Waterberg Holdings, Westhuizen Estates.
Besoek ons aanlynkatalogus hier. Ons opdateer hierdie katalogus voortdurend met die nuutste inligting, so maak seker jy kyk gereeld hier en ook na die Wildswinkel app.
Ek bedank graag vir Lood Bester en sy uitstekende span by Wildswinkel vir hulle entoesiastiese bydra om seker te maak ons veiling verloop vlot. Ons is bevoorreg dat Wildswinkel ons veiling aanbied en sien uit na ’n goeie veiling van gehalte diere in die nuwe Wildswinkel veilingslokaal.
Ons afslaer Brandon Leer is ’n wildkenner soos min. Baie dankie ook aan jou, Brandon. Ons is in goeie hande met jou aan die stuur.
Laastens wil ek graag die wildbedryf as geheel bedank vir julle ondersteuning. Dit is ’n riem onder die hart.
Vriendelike groete, Dries
Dries Visser: 083 295 3190
Dries Visser Jnr: 083 282 4822