’n Buffel is ’n buffel
Daar is geen DNA-verskille tussen buffels wat beskryf word as sogenaamde Oos-Afrika (Madikwe/Addo) en die Kruger buffel-bloedlyne nie
Die groot risiko vir buffeltelers dwarsoor Suid-Afrika lê in siektes soos bek-en-klouseer, tering, brusellose, korridor- of buffelsiekte, ens. Wanneer buffels só ’n siekte onder lede het is die enigste raad in die meeste gevalle gewoonlik om hulle van kant te maak.
In sekere situasies word die siektes tussen beeste en buffels oorgedra. Ongelukkig is beeste nie soos in die geval van buffels onderhewig aan verpligte toetse voor hulle verskuif mag word nie. Dit beteken buffelboere moet alles in hulle vermoë doen om te keer dat hulle buffels hierdie siektes opdoen.
Een van die beste maniere om te voorkom dat buffels besmet raak is om geografiese kontak tussen buffels en beeste te voorkom. (Ander maatreëls soos die dip van buffels en die spuit van vervoerwaens met bosluisdodende middels is ook noodsaaklik.)
Sekere geografiese gebiede hou ook groter gevare vir buffels in, aangesien party siektes algemeen daar voorkom.
Die uiterlike voorkoms van ’n buffel kan nie vir jou wys of hy dalk een of ander siekte onder lede het nie. Jy moet hom altyd slegs beskou as skoon tot op die datum van sy laaste patologiese toets.
Volgens Dries Visser, bekende wildboer van Thabazimbi, word ’n buffel se vatbaarheid vir siektes dus nie deur sy beskrywing bepaal nie, maar wel of die buffel moontlik in aanraking met ’n oordraagbare siekte kon wees. Die enigste manier om dít te bepaal is om die buffel deur ’n veearts te laat toets. (Alle bloedmonsters moet na Onderstepoort gestuur word vir patologiese toetse.)
“Die storie dat sogenaamde Oos- Afrika buffels beter, anders of meer siektevry/bestand is as sogenaamde Kruger-bloedlyne is dus nie waar nie,” verduidelik Dries. “Daar is geen bewyse vir hierdie bewerings nie.” Hy is van mening dat dit in die mark versprei word om die pryse van sogenaamde Oos-Afrika buffels kunsmatig hoog te hou.
Kruisteling vir die beste buffels
Net soos by ander wildspesies word die beste buffels geteel deur kruisteling tussen verskillende bloedlyne toe te pas, glo Dries Visser. “Die voordeel van kruisteling tussen verskeie buffel-bloedlyne is die beskikbaarheid van ’n groter en meer diverse genepoel.
“Buffels wat as Kruger beskryf word se horings het byvoorbeeld groter val (‘drop’), swaarder massa met ’n wyer ‘Boss’, terwyl Oos-Afrika-buffels se horings goeie buite-wydte (‘spread’) het, maar ligter massa en minder val het as die Kruger-tipe. Ek hou ook van die karakter van die Kruger-tipe horings. Na my mening kan ’n mens met kruisteling ’n baie beter buffel teel deur die beste van alle bloedlyne te kombineer.”
Veilingspryse dui reeds aan dat die uitermate hoë pryse wat in die verlede hoofsaaklik net vir sogenaamde Oos- Afrika buffels gereserveer was vining besig is om te verdwyn. Dries glo dat die enigste maatstaf vir buffelkwalitetit gekoppel word aan horing- en algemene kwaliteit van die dier, ongeag sy beskrywing as Oos-Afrika of Kruger.
“Buffels wat as Oos-Afrika bekend staan en dié wat Kruger genoem word se pryse beweeg al hoe nader aan mekaar, sodat daar in die nabye toekoms nie meer ’n verskil sal wees as gevolg van benaming nie,” verduidelik Dries. Hy sê verder dat slegs die werklike kwaliteit van die spesifieke buffel sy prys sal bepaal.
“Dit was op onlangse buffelveilings alreeds merkbaar. Ek glo dat die topkwaliteit buffels in die toekoms deur kruisteling behaal sal word.”
Goeie naand,
Hoop dit gaan goed met jou.
Ek is op soek na a buffel.
Skakel my op 071 491 2882
Baie insiggewend , baie dankie !
Dankie tog, ‘n nugter stem van sin en rede